Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 07 DESEMBER 2014

Goeiemore en welkom! Jy kan nou luister na die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga gelees deur .............................................. (naam, roepsein en QTH waar toepaslik).

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 sentraal Afrika tyd 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 sentraal Afrika tyd in Engels uit op HF en verskeie BHF en UHF herhalers landswyd. Vir Echolink luisteraars is daar 'n herleiding deur ZS0JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Suid-Afrikaanse Radioliga webblad.

Hierdie oudio bulletin kan van die Suid-Afrikaanse Radioliga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word. 'n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e pos te ontvang.

Ons begin ongelukkig vanmôre se bulletin met nuus van ‘n stil sleutel:

Dit is meet leedwese dat die afsterwe van Kobie Conradie, ZS4KC, op Donderdag 27 November aangekondig moet word. Kobie was ‘n eertydse Hamnet direkteur vir die Vrystaat.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende

POUSE

In die nuus vandag

SARL NUUS SPERTYD
SARL VERGADER MET OKOSA
SARL 90 JARIGE VIERINGE
NEEM JOU BHF SENDONTVANGER SAAM MET VAKANSIE


** Die maandelikse Suid-Afrikaanse Radioliga Jeugnet vind vanmiddag, Sondag 7 Desember 2014, om 15:00 plaas op 7 070 khz. Die net poog om soveel moontlik jongmense onder die ouderdom van 25 te betrek. Vanmiddag se net sal die spesiale geleentheid roepsein ZS9YOTA, Youngster On The Air, gebruik. Deelnemers aan die net onder die ouderdom van 25, staan ook ‘n kans om ‘n elektroniese boustel wat deur Electronics FG geborg word te wen.

Om meer uit te vind oor YOTA en hoe om aan die geleentheid deel te neem, besoek die webblad www.hamradio.org.za Kom geniet die middag saam met jou portiergroep op die lug.

** Na ‘n hewige debat die afgelope week via e-pos bring ons graag weer die volgende onder almal se aandag. Die spertyd vir Suid-Afrikaanse Radioliga nuus insetsels, sal vir die afsienbare toekoms steeds Donderdagaande wees. Ons moet egter weer onder almal se aandag bring dat hierdie spertyd streng nagekom en van nou af weer toegepas gaan word.

Dit is ongelukkig so dat sommige opstellers net Vrydagaande tot hul beskikking het om nuusbulletins saam te stel en redigeer, as gevolg hiervan sal dit in die toekoms nie meer moontlik wees om nuusitems wat na die spertyd ingestuur word te akkommodeer nie.

Maak asseblief baie seker dat items wat datum sensitief en/of baie belangrik is voor of ten minste op die sperdatum ingestuur word om enige teleurstelling te voorkom.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga en OKOSA se kwartaallikse vergadering het die afgelope Vrydag plaasgevind. Verskeie sake voortspruitend uit die regulatoriese werkwinkel wat gedurende Augustus gehou is, is bespreek. Van die sake bespreek sluit in die uitbreiding van die 160-meter band, asook die aanpassing van uitsetkrag op eksklusiewe amateur HF bande.
Voorstelle sal voorgele word aan OKOSA se raad wat vroeg in Januarie 2015 vergader.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga het ook voorlopige voorleggings gemaak t.o.v die goedkeuring van apparaat waar die vrystelling van sulke goedkeuring aan amateur apparaat verleen word. Die Suid-Afrikaanse Radioliga sal nou ‘n formele voorlegging voorberei wat hierdie veranderinge aan die reels duidelik uiteensit.

OKOSA het ook die Suid-Afrikaanse Radioliga afvaardiging ingelig dat wysigings aan die radio regulasies wat in 2011 gepubliseer is binne die volgende week in die Staatskoerant gepubliseer sal word. OKOSA sal ook wysigings maak aan die manier waarop lisensie fooie bereken word. Vanaf die 2016/2017 boekjaar sal lisensie fooie gekoppel wees aan inflasie. Amateurs wat jaar op jaar betaal kan hulself nou beskerm deur gebruik te maak van die 5 jaar betaal opsie wat jou lisensie vir die volgende 5 jaar dan sal vaspen teen die huidige tarief.

Sodra die Staatskoerant gepubliseer is sal die Suid-Afrikaanse Radioliga die koerant in web formaat op die liga se webblad beskikbaar maak vir aflaai. Die Suid-Afrikaanse Radioliga is by die vergadering verteenwoordig deur die President Geoff Levey, en raadslede Hans van de Groenendal en Nico van Rensburg en Colin de Villiers. Na afloop van die vergadering was dit tyd vir die jaarlikse Suid-Afrikaanse Radioliga middagete.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga vier in 2015 sy 90-ste bestaansjaar met die spesiale roepsein ZS90SARL. In verlede week se SARL-nuus, was daar ongelukkig ‘n fout in die laaste sin van die item in die nuus, ons het verwys na verkeerde e-pos adres. Om ‘n tydgeluf te bespreek vir die gebruik van hierdie besondere roepsein stuur asseblief ‘n epos aan sarl90@sarl.org.za

Van die geleenthede wat gedurende die eerste 4-maande van 2015 beplan word sluit in die spesiale roepsein, ZS90SARL, wat die totstandkoming van die South African Radio Relay League in Mei 1925 herdenk, Die SARRL was die voorloper van die huidige Suid Afrikaanse Radio Liga.

Die roepsein ZS90SARL is beskikbaar vir gebruik deur alle geaffilieerde klubs. Die roepsein kan op rotasie basis vir een week op ‘n slag gebruik word met die vooraf reeling daarvoor deur ‘n epos aan sarl90@sarl.org.za.
Klubs en individue wat aansoek doen vir die gebruik van hierdie roepsein moet asseblief tye en frekwensies aandui. Logstate moet elektronies gehou word deur sover moontlik gebruik te maak van die N1MM formaat. Logstate moet direk na afloop van die klub se tydgleuf aan contest@sarl.org.za gestuur word. Die logstate sal ook op Logbook of the world gelaai word.

** Neem gerus ‘n BHF send/ontvanger en klein rigstraler saam hierdie vakansie. Jy mag moontlik net die geleentheid kry om ‘n paar langafstand-kontakte te maak op beide die 50 en 144 MHz bande net na sonop en weer in die aande wanneer tropo geut kondisies op hul heel beste is.

Vroeër jare kon die BHF Band-1 televisie seine vanaf Zimbabwe en ook Zambië omstreeks 12:00 tot 14:00 elke middag in Port Elizabeth gehoor word. Hierdie seine het gereeld S9 en selfs sterker in die Oos Kaap ingekom en was ‘n baie goeie aanduiding van die tropo geut toestande. Dit is dus die ideale geleentheid om tussen 12:00 en 14:00 plaaslike tyd jou radio aan te skakel en kontak met V5 en selfs Z2 te probeer maak, wie weet miskien tref jy dal nog die geluk met daardie rare DX.

Maar dit is definitief nie al opwinding wat daar te kry is uit BHF nie, dink nou net, jy kan daar om die vuurtjie ontspan terwyl jy kontakte maak. Daar is ‘n lys op die SARL BHF forum beskikbaar met name en telefoon nommer van meer as 100 amateurs wat aktief is op BHF. Wie weet jy kan dalk net ‘n teksboodskap ver wees van kontakte met ou vriende of selfs nuwe kennise.

** Die Oos Rand Radio klub het sy 2014 verrigtinge op ‘n hoë noot afgesluit. Die klub se formele dinee was op 29 November gehou. By hierdie spoggeleentheid is lede getrakteer met ‘n uitstekende maaltyd terwyl verskeie lede erkenning ontvang het vir hul bydraes tot die klub se sukses die afgelope jaar. In totaal is daar erkenning gegee aan 54 amateurs.

Die volgende persone verdien egter spesiale vermelding.

Erelidmaatskap is toegeken aan Ben Fourie, ZS6BEN
ERB Foon trofee: Dior Dreyer-Juselius, ZS6DJD
Johan du Plooy wisseltrofee: Willem van der Merwe, ZS6WIM
ZS6ERB Gelykgolf en Digitale wisseltrofee: Johan Meyer, ZS6DMX
ERB QRP Trofee: Pieter Jacobs, ZS6XT
Danie & Elize van Wyk wisseltrofee: Johan Meyer, ZS6DMX
Frank Mercier HAMNET trofee: Leon Lessing, ZS6LMG

Ook ‘n woord van dank aan die Wesrand Amateurradioklub, ZS6WR, vir hul ruim donasie ten opsigte van die Oos Rand Klub gebou fonds.

Lede van die klub maar ook van die Suid-Afrikaanse Radioliga word genooi om op 31 Januarie weer by die klub aan te sluit wanneer die klub aktiwiteite vir die nuwe jaar afskop met ‘n somer snuffelmark by Arrowe Park in Benoni.

Ons se ook dankie aan almal wat gehelp het om 2014 vir die klub ‘n sukses te maak. Die Oos Rand klub vir 77 jaar van amateurradio aan die Oos Rand

Jy luister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga

** Vanmiddag vanaf 13:00 tot 16:00 UTC kan jy deelneem aan die Suid-Afrikaanse Radioliga Digitale kompetisie met PSK31 en RTD werking op 20, 40 en 80 meter. 'n Stasie mag twee keer per band gekontak word, een keer op PSK31 en een keer op RTD.

'n RST verslag en 'n opeenvolgende nommer wat by 001 begin word uitgeruil. Kontakte met stasies in Suider-Afrika tel 3 punte en kontakte met stasies buite Suider-Afrika tel 1 punt. Logstate moet teen 14 Desember 2014 aan contest@sarl.org.za gestuur word. Lees die reëls op bladsy 40 van die Kompetisie handboek vir die vermenigvuldigers en finale telling besonderhede.

** Die kompetisie komitee het 11-logstate ontvang vir die tweede been van die Nasionale Velddag. Dankie, aan almal wat 'n logstaat ingestuur het. Die volledige uitslae is beskikbaar in HF Happenings 634.

Klas A - Veld Stasie, Multi-operateur
1ste Highway ARK, ZS5HAM, 81 480 punte
2de Wesrand ARK, ZS6WR, 77 004 punte
3de Pretoria ARK, ZS6PTA, 61 452 punte

Klas C – Veld stasie – enkel operateur
1ste Andries Visagie, ZS6VL/4, 27 240 punte
2de Dennis Green, ZS4BS, 60 punte

Klas E - Ultra lig draagbaar
1ste Andries Visagie, ZS6VL/4, 27 240 punte

Klas F - Algemene stasies
1ste Pieter Jacobs, ZS6XT, 11 808 punte
2de Theunis Potgieter, ZS2EC, 730 punte
3de Peet Pretorius, ZS4VP, 300 punte

Baie geluk aan die Klas wenners

Die gekombineerde uitslae van die Februarie en November bene van die Nasionale Velddag

Klas A - Veld Stasie, Multi-operateur
1ste Oosrand ARK, ZS6ERB, 153 600 punte
2de Highway ARK, ZS5HAM, 150 480 punte
3de Wesrand ARK, ZS6WR, 127 884 punte

Klas C - Veld Stasie - Enkel operateur
1ste Dennis Green, 7P8DG, 15 648 punte
2de Robbie Parkinson, ZS1RAP, 12 192 punte
3de Dennis Green, ZS4BS, 60 punte

Klas D - Veld Stasie - Enkel operateur - QRP
1ste Richard Hayter, ZS6RSH, 24 624 punte

Klas E - Ultra lig draagbaar
1ste Andries Visagie, ZS6VL/4, 27 240 punte
2de Eddie Leighton, ZS6BNE, 1 890 punte

Klas F - Algemene stasies
1ste Pieter Jacobs, ZS6XT, 39 948 punte
2de Johann van Zijl, ZS4DZ, 6 012 punte
3de Pravin Kumar, ZS5LT, 5 824 punte

Baie geluk aan almal

** Die uitslae vir die Suid-Afrikaanse Radioliga BHF/UHF kompetisie gehou oor die naweek van 15 en 16 November het die volgende uitslae opgelewer

Basis stasie analoog
1ste Carl Minne, ZS6CBQ - 28 809 punte
2de Koos du Plessis, ZS6BFD - 9 148 punte
3de Jaco le Roux, ZS6PX - 6 260 punte

Basis Stasie Analoog met 4-uur spertyd
1ste Dave Dusseljee, ZS6UD - 2 972 punte
2de Koos Greyvenstein, ZS6KSG 990 punte

Klub/multi-operateur veld stasie
1ste Potchefstroom ARK, ZS6POT - 24 680 punte
2de Pretoria ARK, ZS6PTA - 15 647 punte
3de Rustenburg ARK, ZS6RTB - 11 343 punte

2 Meter
1ste Potchefstroom ARK, ZS6POT - 14 640 punte
2de Carl Minne, ZS6CBQ - 11 892 punte
3rde Koos du Plessis, ZS6BFD - 6 828 punte

70 sm
1ste Carl Minne, ZS6CBQ - 12 852 punte
2de Pretoria ARK, ZS6PTA - 5 733 punte
3rde Rustenburg ARC, ZS6RTB - 4 886 punte

23 sm
1ste Carl Minne, ZS6CBQ - 4 050 punte
2de Koos du Plessis, ZS6BFD - 1 566 punte
3rde Dick Coates, ZS6BUN - 1 494 punte

Geluk aan al die wenners

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot gematig gaan wees. Sonvlek 2222 het 'n komplekse magneetveld en huisves genoeg energie vir vêrdere M-klas sonfakkels. Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 88.

Amateurs gaan die 20 tot 10 m bande geniet met veral die 15 m wat goeie DX-openinge op daglig paaie daar kan stel. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** En nou die dagboek van gebeure

01-31 Desember - Jeug op die lug met ZS9YOTA
7 Desember - die Suid-Afrikaanse Radioliga Jeugnet op 7 070 kHz met ZS9YOTA en die Suid-Afrikaanse Radioliga digitale kompetisie
13 en 14 Desember - ARRL 10 meter Kompetisie
15 Desember - insette na die Suid-Afrikaanse Radioliga oor die nasionale geïntegreerde IKT-beleid besprekingsdokument
1 Januarie 2015 – ZS90SARL gaan op die lug

Ons sluit vanmôre se bulletin met 'n vinnige terugblik op ons hoofstorie:

** Die maandelikse Suid-Afrikaanse Radioliga Jeugnet vind vanmiddag, Sondag 7 Desember 2014, om 15:00 plaas op 7 070 khz. Die net poog om soveel moontlik jongmense onder die ouderdom van 25 te betrek. Vanmiddag se net sal die spesiale geleentheid roepsein ZS9YOTA, Youngster On The Air, gebruik. Deelnemers aan die net onder die ouderdom van 25, staan ook ‘n kans om ‘n elektroniese boustel wat deur Electronics FG geborg word te wen.


Luister elke Sondagoggend om 10:00 sentraal Afrika tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor die land. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 4 895 kHz plaas. Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radio Liga saamgestel deur Dawie Conradie, ZR6DHC, geredigeer deur Dennis Green, ZS4BS, en gelees deur .............................................................

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou 'n mooi week toe.

/EX




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003